Karien – IVA

In Mei maand 1998, het ek agtergekom ek is swanger. Terwyl ek my ouers gehelp het om vleis te bewerk, wat ek so gereeld gedoen het, het ek skielik siek gevoel. Dit was ‘n snaakse onbeskryflike gevoel. Met my hele swangerskap kon ek glad nie die reuk van rou vleis hanteer nie, of selfs vleis eet nie. As gevolg daarvan het ek baie gewig verloor met die eerste termyn van my swangerskap.

Die geboortedatum van my eersteling is bepaal vir die 16de Januarie 1999, maar sy het haar verskyning op die 28ste Desember 1998, 9h25 die Maandagoggend gemaak, nadat ek normaal gekraam het. Drie dae later word ons tweetjies saam ontslaan. Teen die Vrydag, nadat ek normaal voed, wou Karien nie meer voed nie en het die heeltyd geslaap. Ek het gedink ek het die soetste babadogtertjie. My moeder wat my kom ondersteun het met my eersteling het daardie aand vir my gesê dat iets nie pluis is nie. Sy het gesê, as die baba gebad is, moet sy lekker ruik nadat sy gepoeier is, maar my Karien het nie. Sy het heeltyd benoud geruik. Teen die Saterdag was my moeder onrustig. Karien het toe geelsug. Ons plaaslike dokter, Ockie Strydom, het ons kom besoek en vir my en klein Karien na ons buurdorp, Kareedow, se hospitaal gestuur.

Die Maandag was Karien ‘n week oud en sy word verplaas na Port Elizabeth se Greenacress Hospitaal waar ons pediater, Dave Purcase, praktiseer. Daar moet ek toekyk hoe bloedtoetse op my weekoue babatjie aanhoudend gedoen word. Haar hakke is bloedrooi soos hul naalde insteek. Later het hul haar armpies en nek ook vol naaldmerke gesteek. Ek het my byna doodgehuil om dit elke keer te aanskou. Dit het vir my gevoel my kind sterf en sy lyk dan so gesond. Met geen voeding wat sy binnehou nie, was ek raadop.

Na vyf dae in hospital het dokter gesê ons moet haar kom haal. Hy wag vir toetse en dit wat hul vir haar in hospitaal doen, kan ek by huis ook doen. Die Maandag, twee weke na Karien se geboorte, sit ek 11h00 die aand en sukkel om 25ml melk in haar lyfie te kry, met my man, Derick en moeder langs my. Ons pediater, Dr Dave Purchase, het ons toe geskakel op my man se selfoon. Hy wil met my praat. Nog voor ons praat het ek al gehuil, want hoekom bel hy so laat?

Isovaleriaansuururie (IVA), dis wat ons twee weke oue baba dogtertjie het. Ons moet die volgende dag vroeg in Port Elizabeth wees, wat 198 km van ons af is. So word Karien weer opgeneem in die hospitaal, maar hierdie keer weet ons waarvoor. Terwyl ons met die dieetkundige praat, het ek gewonder hoe ‘n mens ‘n baba grootmaak sonder melk en ander proteïene?

Ek glo die verpleegster het my hartseer gesien en later die dag toe roep sy my eenkant. Sy mag nie uitpraat oor ander pasiënte nie, maar sy dink ek moet iemand kontak, kan ongelukkig nie meer die ouers onthou nie, nadat ons kontak verloor het. Die moeder se kind is 9 jaar oud met dieselfde siekte, maar het erge breinskade. Sy vertel my van ‘n melkproduk wat ingevoer word deur Wyth, naamlik S-14. Dis ‘n lae protein melk. So het ek die melk gekry en my kind daarop grootgemaak. My mediese fonds het dit aan begin teen 50% verskaf aan my. Mettertyd het die Wyth maatskappy dit gratis aan my verskaf, tot en met hul dit nie meer beskikbaar gehad het in Suid-Afrika nie.

My apteker verskaf Karien se L-karnitien en glisien supplementasie en my plaaslike dokter stuur gereeld materiaal na PLIEM (Potchefstroom laboratorium vir Aangebore Metaboliese Defekte), vir haar opvolgtoetse vir moniteringsdoeleindes. PLIEM is ook die Laboratorium in Potchefstroom wat Karien met Isovaleriaansuururie (IVA) gediagnoseer het en staan onder die hoof van Prof Japie Mienie. Ons laaste besoek was in 2011 by Dr Dave Purchase en hy was ongelooflik tevrede met Karien se ontwikkeling. Al haar opvolganalises vir moniteringsdoeleindes lyk goed en die dieet en terapie blyk baie effektief te wees.

Karien kom soos ‘n normale meisie voor en mense wat haar ontmoet sal nooit weet van haar siektetoestand (IVA) as mens dit nie vir hulle vertel nie.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top