Martinique

Dokter :“Wil julle toets vir Down sindroom?”
Ons : “Nee, Dokter. Maak nie saak of hierdie kind gestremd is of nie. 
Ons sal nie die swangerskap beeïndig nie. Dit maak nie ‘n verskil vir ons nie.”

Watter mamma is nie opgewonde oor haar eerste swangerskap nie en pappa loop breebors rond. “10 Vingers en 10 tone” sê die narkotiseur met haar geboorte. Die APGAR telling 9 en toe 10. Sy gaan nie eers broeikas toe nie. Sommer reguit saam met mamma kamer toe.

Op 5 maande vertel die arbeidsterapeut vir ons ons kind se ontwikkeling is 2 maande agter. Haar nekkie wil nie styf nie. Op 6 maande, presies 6 maande, haar eerste epileptiese aanval. Vier uur in die oggend, terwyl sy drink. Sy staar dan net op een plek…? Het ek reg gesien? Wat was dit? Drie dae later weer en toe kon ons duidelik sien dat iets snaaks met haar gebeur. Ogies kyk elkeen in sy eie rigting.

Pediater toe. Ons gaan nie een werk toe nie en toe het die dinge begin…

‘n Verdere 12+ aanvalle vir die dag.

“lumbar puncture” – niks fout nie.
Breinskanderings – niks fout nie.
EEG – niks word opgetel nie.

En 5 dae later is ons op pad na Unitas hospitaal in Centurion. Ons word verwys na Dr Michael Lippert, pediatriese neuroloog. Ons nuwe beste vriend, wat vir ons die diagnose moes gee.

Bloedtoetse word gedoen. Baie intensief en baie mense werk laat aande om ‘n diagnose so gou moontlik te kan maak ten einde die epilepsie onder beheer te kry. Elke dag aanvalle. Ogies geswel en dieregeluide… “Suster, is daar breinskade?” vra ek. Sy het my aangekyk en gesê: “Wat wil jy hê moet ek vir jou sê…”

Martinique word gediagnoseer met CDG, tipe 1c – wat met verdere ondersoeke bevestig word. Die oggend van die diagnose kry ons gefotostateerde papiere in die Paeds ICU wat ons solank kan lees. Grootste mediese terme wat vir ons niks beteken nie. Wat ons wel kon verstaan was die deel wat gelees het “patients are wheelchair bounded”, maar ons steur ons nie daaraan nie, want dit sal nie met ons gebeur nie. Almal se woorde: vir God is niks onmoontlik nie. Sy kan genees word. En ja, ek weet vir God is niks onmoontlik nie, maar die realiteit bly die realiteit en sou sy dan genees word, is dit net ‘n bonus, maar vir nou moet ons hanteer wat op ons pad gebring is.

Sy sal nie loop nie. Sy sal nie praat nie en mettertyd doof word. Blind ook. Ons is verpletter. Ek in ‘n hoekie en Johan in ‘n ander hoekie. Ons weet nie hoe om dit te verwerk en wat om daarvan te maak nie.

Die eerste jaar was moeilik. Sy het verskriklik moeilik tande gekry en longontsteking was aan die orde van die dag.

Nou, 5 jaar later, is Martinique ons sonstraal in die huis. Ja, sy kan nie loop nie en praat steeds net brabbel babataal. Maar sy het ‘n glimlag “to die for” en kan darem beweeg as sy op die vloer lê. Sy rol om en dan beweeg sy die hele vloer vol. Sy waardeer haar kossies en huil nooit. Solank daar liefde, kossies en “juice” is, is die wêreld vir haar reg.

Ons dink tog sy kan nog ietsie sien. Sy kyk in jou rigting as jy met haar praat en hoor kan sy verseker nog. Sy identifiseer ons stemme dadelik. Ai, is ‘n mamma se hart darem maar nie bly as haar dogtertjie vir haar lag as sy met haar gesels nie.

Ons het “aandele” in Emfuleni Medi Clinic en ken al die personeel vir Martinique. Ons kry baie goeie diens en sy is so deel van die kindersaal soos die gordyne wat daar hang. Ons plaaslike Pediater, Dr Kazadi Mbamba, is uitstekend en help en ondersteun ons baie.

Longontsteking en faringitis sorg vir al die hospitalisasies. Ongeveer 6 tot 8 keer ‘n jaar. Lastige ou keelinfeksie wat veroorsaak dat sy heeltyd braak en dan dehidreer. As daar koors is, is dit hospitaalsake. Geen orale antibiotika bly in om eers sy werk te doen nie en daar word tot drie soorte antibiotikas binne-aars gebruik om haar longontsteking te behandel.

Ons het geleer bid. Ons het geleer wat geduld is en ons het geleer wat dit is om jou kind te waardeer. Die grootste gawe wat jy van die Here kan ontvang.

En wraggies word ons weer geseën! Martinique kry ‘n sussie en die grootste wonder, SY IS NORMAAL en mal oor haar ousus…ons verruil ousus vir niks en niemand in die wêreld nie.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Scroll to Top